your country villa

Riebeek-Kasteel roep: ’n Kykie op kos, kelders, koffie en kultuur

 7 September 2023 – Dankie Nanja Lourens vir die mooi worde – LEKKERSLAAP

Vandag is dié dorpie ’n verskriklik gewilde naweekbestemming onder Kapenaars. Die dorpie het uitstekende verblyf, van die welbekende Royal Hotel in die hoofstraat, wat een van die oudste hotelle in die land is, en luuske gastehuise op wynplase, tot oulike selfsorgkothuise vir paartjies en groepe – daar is beslis iets vir almal. Boonop is die natuurskoon ongelooflik reg deur die jaar. In die somer is die landskap ’n mengsel van groen wingerd en vaalgeel koringlande, herfstyd verander die wingerd natuurlik na skakerings van goudgeel, bloedrooi en roesbruin, en in die winter sien ’n mens die grasgroen lusernlande en geel kanolalande sommer van baie ver! Dan is daar so baie om te doen wanneer jy hier is, dat ’n naweek eenvoudig nie genoeg is nie. 

Ons mense wil nie meer iewersheen gaan waar daar te veel ander voete is nie. Ons wil net ’n bietjie uit die stad uit kom, lekker, gemaklik iewers op ’n wynplaas agteroorsit en tyd saam met ons gunstelingmense deurbring — en nie ons ore van ons kop af daarvoor betaal nie. Dit is presies wat Riebeek Kasteel ou bied. Lekkerslaap het vir ’n naweek in die Riebeekvallei gaan kuier, sodat ons vir jou kan vertel presies waar jy moet gaan aanklop vir lekke eet, lekke wynproe en, natuurlik, lekke slaap!

Kloovenburg Wine & Olive Estate

Vroegoggend is ons op die pad, die grys wolke hang swaar oor die wêreld, maar ons sien dit skaars raak, want daar voor lê die goudgeel en grasgroen lappieskombers. Ons is op pad Swartland toe!

Bo op Bothmaskloofpas voel ek ’n rukwind aan die stuur pluk en ek klou maar styf aan die stuurwiel om die karretjie reguit op die afdraande te hou. Ons eerste stop is sommer vinnig links aan die onderkant van die pas by Kloovenburg. Ons klim uit (snaaks genoeg is dit windstil hier) en loer by die proelokaal in waar ons vir Ursel en Pieter du Toit, die eienaar, ontmoet en ’n bietjie buite op die stoep gesels. Kloovenburg is in 1956 deur Pieter, of Pietertjie soos my ma hom noem, se oupas gekoop en hy het self hier in 1987 kom boer. In 1997 het Pieter saam met sy seuns en ’n paar vriende Kloovenburg se eerste wyn, ’n pinotage, gemaak. Daardie tyd het hulle nog nie die nodige toerusting gehad nie en moes hul self die stingels met die hand verwyder en die druiwe met hul voete trap om die skille te breek, en dit is toe Stellenbosch toe gestuur om te fermenteer en te verouder. In 2000 het Pieter die kelder gebou en sy eie wyn begin maak.

Oom Pieter vra waar my naam vandaan kom en verduidelik dat dit van my ouma se naam afgelei is, my ouma wat ook hier op die dorp gebly het. Hy vra toe uit en ons gesels lekker oor my ma, oom en oupa daardie jare. Hy vertel hoe die skoolkinders my oupa op sy verjaarsdag met ’n donkiekar by die huis gaan haal het en skool toe vervoer het — my oupa agterop en die kinders voor waar die donkies moes wees.

Vandag is daar baie om te ervaar by Kloovenburg. Hulle het ’n knus proelokaal waar jy nege wyne kan proe en jou eie kaasbord kan optower deur uit heerlike olyfprodukte, ’n verskeidenheid kase, kouevleis, droëvrugte, neute en vrugte te kies. Daar is ook Annalene, Pieter se vrou, se olywe, olyfolie, -smere en -soute om te proe. Om die draai, by die Kringe Inni Bos-restaurant verkoop hulle ontbyt, geroosterde toebroodjies, burgers en pizzas. Soos die naam sê, is daar dan sit- en speelplek oral in die denneboomwoud versprei — “jou ma en Braam het baie in die woud kom speel, nè,” sê oom Pieter.

Daarna klim ons in die bakkie saam met Johan, die kelderbestuurder, en Wenen, die gastehuisbestuurder sodat hulle ons ’n bietjie op die plaas kan rondwys. Johan vertel van die staproetes op die plaas, Annalene se olyfbome wat in 1998 geplant is, die hoogste Sauvignon Blanc-blok op die plaas wat na Mark Shuttleworth vernoem is en van die groot rots in die middel van die wingerd — Pieter se seun, Johan, het as kind gesê hy sal dit sommer uit die pad uit sleep en het ’n tou om die rots gebind, reg vir sleep! Nou ja, hier staan die rots tot vandag toe en die herinnering is vir altyd op die ongehoute Chardonnay-bottel se prentjie vasgevang. Jy kan maar gaan kyk, elke bottel se prentjie vertel ’n plaasstorie.

Ons gaan maak ook ’n draai by die gasterhuis Die Du Toit-familie het in 1977 die ou pastorie by die NG Kerk gekoop en 33 jaar later het Pieter en Annalene dit in een van die Riebeekvallei se luuksste oornagverblyf-opsies omskep. Die gastehuis is ’n ou Victoriaanse huis met ’n lang stoep, vier en suite-slaapkamers, ’n gemeenskaplike kombuis en sitkamer, en ’n pragtige swembad buite in die tuin. Dit is lekker sentraal geleë en stapafstand vanaf die middedorp — ideaal vir ’n luukse naweekwegbreek!

Beans about Coffee se doel is om ’n onafhanklike koffiekultuur te bevorder waar plaaslik geroosterde koffie bevoordeel word en onmiddellik beskikbaar is. Kom kuier hiér en kyk hoe hulle boontjies van reg oor die wêreld in klein hoeveelhede rooster en proe dan om te besluit wat jou gunstelinggeur is.

Ons gaan sit buite onder die boom en Kara bied vir ons ’n wynproe aan terwyl ons aan al die lekker kase, vleise en olywe op die kaasbord smul. Ons proe die RAAR Chenin Blanc, die Kasteelberg Chenin Black, die RAAR Petit Sirah en die Kasteelberg Syrah. Nou, gewoonlik sal ’n Chenin Blanc nie my gunsteling wees nie – dit laat soms my kiewe saamtrek, maar dié een was besonders lekker! ’n Mens kan proe dat die wynmaker haar unieke stempel op dié wyn afgedruk het. 

Of jy nou lus is vir wynproe of sommer net ’n bottel wil bestel en ontspan, jy moet beslis by die Emporium kom inloer. Kies uit ’n hele klomp lekker eetgoed, pak jou eie kaasbord en kies ’n tafel binne of buite onder die boom sodat jy lekker met ’n glasie in die hand kan mensekyk. Kara vertel dat hulle op Sondae ook ’n Poetry Jam het, waar digters van oraloor hulle digkuns kom voorlees en jy aan ’n glasie wyn of ’n koppie koffie kan teug. En as jy vooraf bespreek, kan jy ook jou eie wyn hiér kom meng. Jy kry enkelversnitte om mee te werk, maak jou eie konkoksie en besluit wat vir jou die lekkerste proe, dan word dit vir jou gebottel en jy ontwerp jou eie etiket waarmee jy die bottel versier, en voila! Jy het jou eie bottel wyn wat jy saam huis toe kan neem. 

Nadat ons onsself tuisgemaak het, kry ons vir Max en David op die voorstoep. Max is ’n kinderboekskrywer en ’n wannabe-kok en David ’n professionele en passievolle fotograaf met ’n oog vir alles wat mooi is. Hulle het tydens die Covid19-grendeltydperk uit ’n tripelverdieping-dakwoonstel in Breestraat in die Moederstad getrek en hulle hiér op die platteland kom vestig. Diversiteit is vir hierdie paartjie belangrik en hulle hou daarvan om van almal wat hiér in hulle huis kom kuier, te leer. En dit is wat hierdie verblyf so uniek maak: hiér kuier jy in die gasheer en -vrou se huis, asof jy by vriende oorbly. Max maak soggens vir jou in haar kombuis ontbyt terwyl David musiek aansit en oor en weer gesels. ’n Mens smul behoorlik aan haar tuisgemaakte muesli wat saam met jogurt en haar tuisgemaakte appelsous bedien word. Dan is daar ook ’n varsgebakte neutsaadbroodjie van die plaaslike deli én tuisgebakte frittata-tertjies wat van plaaseiers, kruie, sampioene en cheddarkaas uit die vallei gemaak word. 

Julu Guest House verwelkom die samekoms van mense van verskillende etnisiteite, verskillende ervarings en van reg oor die wêreld. Selfs die kos wat bedien word, die plaaslike en organiese produkte van die omliggende plase, is die resultaat van ’n vermenging van kulture uit die Riebeekvallei. Dis duidelik dat hulle mal is oor mense en regtig in mense se stories belangstel. Ons gesels vir ure op die stoep terwyl ons die uitsig oor Het Vlock Casteel se wingerd net anderkant die pad bewonder.

Ons teug nog aan die heerlike wyn terwyl 4 Non Blondes se “What’s Up” in die agtergrond speel, toe die hoofgereg arriveer: Rossouw se varsgebakte brood, artisjokke in ’n béchamelsous, varkribbetjies en ’n artisjokslaai met komkommer, appel, fetakaas en rooiui, en dit word saam met ’n Secateurs Red Blend bedien. Ek moet sê, dit is die lekkerste kleinbordjies wat ek al geëet het — ek droom steeds oor daai artisjokke in die béchamelsous. En asof dit nie genoeg is om oor huis toe te skryf nie, word ons ook met Belgiesesjokolade-brownies met ’n Miso-karamelsous bederf! 

Aardvark Eats bedien ook laatontbyt-opsies soos bagels, ’n romerige polenta met pap en wors, en koeskoes met kekerertjies, eiervrug en klein tamaties. Dan is daar ook hulle baie gewilde kleinbordjies, soos die sigare, Bao-broodjies en ’n focaccia, en groter aandetes, soos die varkribbetjies, oondgeroosterde beeslende en skilpadjies wat met kaas en botterboontjies gevul is. Binne is daar ’n geskenkwinkeltjie met handgemaakte kershouers en seep, hulle vriende en Rossouw se eie kunswerke, en leerprodukte. Kom loer gerus hiér in – die restaurant is pragtig, die personeel vriendelik, die atmosfeer knus en gemaklik, en die kos uit die boonste rakke!

Ons proe interessante dinge, soos nastergalkonfyt, waterblommetjie-blatjang en soet olyfkonfyt — die een net so lekker soos die ander. Ansie vertel dat al die vrugte wat in hulle produkte gebruik word, van die plaas af kom, behalwe die nastergalbessie. Hulle het groen- (Nocellara) en swartolywe (Kalamata en Mission) en elkeen word in ’n hele rits geure verkoop: natuurlik, lemoen, knoffel en roosmaryn, gerook saam met balsamiese asyn, en die lys gaan aan. Jy sal maar self moet kom kyk. Hulle maak ook olyfolie en verkoop dit “on tap”, so jy kan sommer jou eie houer saambring winkel toe en self volmaak. Maak net seker die houer is deeglik skoongemaak – moet nooit ’n houer wat reeds gebruik is weer vir olyfolie gebruik nie. Ansie deel nog ’n paar wenke met ons, waar en hoe ons dit moet stoor en waarvoor ons moet uitkyk wanneer ons olyfolie in die winkel koop.

Het Vlock Casteel het ook ’n Cabernet Sauvignon wat lekker saam met geroosterde groente, braaivleis en hulle soetrissie-en-olyf-relish gaan, en ’n Merlot wat perfek is vir ’n kaasbord met verouderde kase en Het Vlock se olyfprodukte. Dan verkoop hulle ook heuning, konfyt, beskuit, lekkergoed, boereseep, slaaisouse, ens. Ons stap nog ’n bietjie deur die winkel en proe ’n laaste keer voor ons ons gunstelinge in ’n mandjie laai: twee potjies gerookte Kalamata-olywe met balsamiese asyn vir my en my ma, ’n potjie nastergalkonfyt vir my skoonsuster en ’n potjie vye vir my pa. By die betaaltoonbank is daar ook waterblommetjies en ons laai twee bakkies in – ons kan nie dié geleentheid laat verbygaan nie! 

Rondom middagete-tyd vat ons weer die Bothmaskloofpas tot bo, net anderkant die bult tot by Meerhof Wines. Hiér is ’n lieflike, kindervriendelike restaurant wat smaaklike pizzas, pasta, burgers, pasteie en selfs seekos bedien. Buite is daar ’n klimraam om die kleingoed besig te hou terwyl Ma en Pa ’n wynproe en ’n toer deur die kelder geniet, of op die stoep sit en aan ’n glasie Meerhof-wyn teug en die uitstekende uitsig oor die Riebeekvallei bewonder — dalk die beste uitsig in dié geweste! 

Dis reënerig vandag en ons sit binne saam met Mia, knus langs die knetterende vuur in die binnebraai. Ons bestel ’n hoender-pizza met ’n BBQ-sous, soetrissies, avokado en fetakaas en ’n lamsvleis-pizza met uie-marmelade en brie, terwyl sy vir ons ’n glas Cabernet Sauvignon gooi. Mia vertel vir ons dat Pieter van Meerhof, Jan van Riebeeck se dokter, destyds op dié plaas gewoon het — en sy en haar gesin bly nou in Pieter en Krotoa se huis, kan jy glo! Die plaas is op die oorspronklike roete geleë wat jare gelede in Februarie 1661 deur ’n ekspedisiegroep, onder leiding van Pieter Cruythoff, geneem is toe hulle op die vrugbare Riebeekvallei afgekom het. En Cruythoff het dit blykbaar Riebeek se Kasteel genoem, na Jan van Riebeeck. In die kelder wys sy later vir ons die oop rotsmuur wat daai tyd deur dié groep oopgekap is toe hulle die vallei ontdek het. Die geskiedenis hier is iets ongeloofliks! Ons hoor ook van hulle strooiwyn, Mooistrooi. Hierdie wyn word gemaak deur ’n eeue-oue proses te gebruik waar die druiwe op strooi uitgedroog word – die strooi suig die vog op en konsentreer die suiker en geur. Dit is ’n nageregwyn wat veral lekker is saam met appeltert of as ’n digestif met ys ná aandete.

Dit is vir Martin lekker en belangrik om ervarings met ander te deel en dít is hoe hy op die wynmaakpad beland het. Hy het aan Elsenburg gegradueer en is daarna deur David Nieuwoudt van Cederberg Wines gementor, voor hy koers gekies het na die Noordelike Rhône-vallei in Frankryk waar hy baie by die Franse geleer het. Hulle het hom geleer hoe om wyn te produseer wat die geskiedenis van die wingerd en sy mense ten toon stel, en hom voorgestel aan sommige van die unieke variëteite wat hy hiér op tuisbodem in die Swartland en Piekenierskloof kom herontdek het. Deesdae kombineer hy hierdie ruwe terrein met sy pretensielose wynmaakstyl om wyn te maak wat sy opregte waardering vir die omgewing ten toon stel.

Ons gesels lekker terwyl hy vir ons ’n wynproe aanbied. Ons proe sy Piekenierskloof-reeks, wat ’n Chenin Blanc, Grenache en ’n Rosé insluit, ’n Chenin Blanc uit die Swartland-reeks, en die Trickster Cinsault wat die resultaat is van twee erfenisrooi-variëteite, Cinsault- en Pinotage-druiwe uit die Piekenierskloof, wat ’n ligte rooiwyn vir die somer skep. Dan is daar ook die Was Jou Hanepoot wat ’n droë witwyn is wat van hanepootdruiwe uit die Piekenierskloof gemaak word. Dié druiwe is ’n bobbejaan se gunsteling en wanneer hulle afkom en die druiwe kom steel, weet Martin dis tyd om te oes. “Was Jou Hanepoot” is ook ’n oulike herinnering dat ons almal moet aanhou hande was om die verspreiding van Covid19-virus te vermy. Op die agterste etiket verwys hy ook na hierdie oesjaar as ’n “kop sanitizer”, want “soms is ’n glas wyn al wat jy nodig het om dinge in perspektief te sit”.

Voor aandete ry ons ’n draai deur die dorp en ek ry oudergewoonte en op gevoel in die rigting van my ma se ou huis. Ek is eintlik verbaas, en trots, hoe vinnig ek die huis opspoor en, soos ons altyd daai jare gemaak het, hou ek ’n tydie stil, rol die venster af en neem ’n vinnige foto om vir my ma aan te stuur.

Terwyl ons na al die produkte op die winkelrakke loer, ontmoet ons vir Léan – een van die kleindogters op die plaas wat nou in die bemarkingsafdeling werk. Dis Sondagoggend en nie verskriklik besig nie, so ons kies sommer ’n tafel in die middel van die bistro. Ons drink ’n cuppacino en smul aan vars pastéis de nata terwyl sy vir ons oor die plaas vertel. Dit is ’n slaghuis wat deur ’n familie met ’n passie vir mense besit word — ’n klein besigheid met ’n groot hart. Of hulle nou vleis verwerk, klante help of met verskaffers onderhandel, Deli-Co hou altyd by ouma Susan se woorde: “Alles in liefde”. Hulle het die bistro in Januarie op die plaas oopgemaak en jy kan nou hier kom inkopies doen, jou vleis by die slaghuis koop, én sommer by die bistro vir iets te ete of drinke aansit. Léan vertel trots hoe gewild die bistro nou onder die plaaslike inwoners én naweekbesoekers is – dit lyk dalk nie so op die oomblik nie, maar “wag net tot die kerk klaarmaak, dan sal julle sien”.

Behalwe vir die plaas het hulle ook ’n deli in die dorp oopgemaak. Tydens die aanbouery van die bistro was die plaaslike mense maar traag om plaas toe te ry en het hulle besluit om ook ’n tydelike deli in die dorp oop te maak. Dit doen toe nou so goed, hulle dink daaraan om hom daar te los. Sy vertel dat Deli-Co se sukses aan goeie, outydse spanwerk van toegewyde familielede en opgeleide personeel wat ’n passie vir vleis en kwaliteit deel, te danke het. En dit is duidelik wanneer jy dié plaas besoek. Behalwe vir die feit dat dit ’n familie-besigheid is, kan ’n mens sien die personeel is ook familie en dit is vir hulle lekker om hiér te werk – dit laat ’n mens sommer ekstra welkom voel!

Deesdae kom ek maar min aan daai kant van die Kasteelberg, maar wanneer ek die kans kry, is dit asof ek uit oudergewoonte ook die strate op en af wil ry, vir wie ook al wil vertel waar my ma van haar fiets afgeval het, en dan ook verby die ou huis ry om ’n foto te neem. Ek was lanklaas hiér, maar vir een of ander rede voel die plekke en die mense só bekend – asof ’n mens na lang tyd weer by die huis gaan kuier.

×